9 Augustus 1982 PILOTS VIEW

 

Op 9 Augustus 1982 was Kapt. Michael Anthony Hill (28), seun van mnr. en mev. M.H. Hill van Hill Crest, Natal, die leier van twee Alouettes wat `n aantal Purmas met troepe na ‘n Swapobasis begelei het. Die vlieënier van die tweede Alouette was Lt. Chris Louw. Hulle het die oggend van hulle basis afop­gestyg en is kort daarna deur die Pumas gevolg. ‘n Aantal Alouettes het ter beskerming by die basis agtergebly en Harry Anderson was een van die vlieeniers.
Nadat Michael en Chris sowat ‘n halfuur (omtrent 42 seemyl) oor die boswêreld gevlieg het met die Pumas enkele kilo’s agter hulle, ontvang hulle ‘n radioboodskap dat een van die Pumas neergestort het.
Aanvanklik was daar ‘n effense misverstand: Het die Puma weens ‘n tegniese fout neergestort, of het die vyand dit neer- geskiet, en is daar oorlewendes?
Michael en Chris het nie geaarsel nie, maar dadelik teruggevlieg na waar hulle vermoed het dat die Puma geval het.
Met die omdraai sien Michael, wat nou effens agter Chris vlieg, swart rook tussen die bome opslaan omtrent ses kilo’s van hulle af.
Toe weet hy, want daardie swart rook kan net deur ‘n brandende vliegtuig veroorsaak word. Van die ander Pumas bevestig sy vermoede: Die vliegtuig is deur grondvuur getref en het geval. Twee ander is ook lig beskadig, maar steeds lugwaardig. Hy gebied die Pumas om die gebied te verlaat en na die HAG terug te keer.
“Ek vlieg kort agter Chris in die rigting van die rook” vertel hy “en weet nie mooi wat om te verwag nie. Ons wil maar gaan help as daar oorlewendes is. So ‘n Puma het ‘n bemanning van drie en daar was twaalf troepe aan boord. Aangesien ek weet dat daar vyand op die grond is en ons op ‘n trefbare hoogte vlieg, raai ek vir Chris aan dat ons afkom tot op boomtopvlak.”
“Terwyl ons nog afkom en omtrent ‘n halwe kilometer van die ongelukstoneel af is, bars hewige grondvuur van die linkerkant af op ons los – ‘n SAM-7, ‘n 14,-5, RPG-7’s en kwaai kleingeweervuur, AK-47’s en die soort ding. Die eerste sarsie is veral op Chris gemik, en toe hy uittrek, kom ek onder skoot. Ek is skuins oor die rokende Puma. Dit lê en brand en daar is min hoop vir oorlewendes.”
“Wat ons nie besef nie, is dat ons reg in die middel van ‘n tydelike Swapobasis is. Nôg ons nog die Pumas het die vyand daar verwag – hulle was op vlug en het tydelik kamp gemaak.”
“Omtrent op daardie oomblik skree Chris oor sy radio dat hy getref is en hy begin sak na ‘n landingsgebied in die middel van die Swapobasis. Ek is by hom en sê ek sal hom bystaan en ek en my boordtegnikus probeer om die vyand plat en weg te hou van Chris se neerwarrelende Alouette.”
“Alles gebeur in sekondes terwyl daar kwaai op ons geskiet word. Ek sien hoe Chris gereed maak om te land en hoe verskeie Swapo’s van die een kant van die bos na die ander hardloop om by te wees wanneer hy gaan sit. Dinge lyk lelik, want van oorkant ‘n sjona af blits die lugafweer op ons.”
“Toe skree Chris oor die radio sy vliegtuig is nog oraait en hy gaan probeer uit- en wegkom. Dit sê hy toe hy op die punt is om te gaan sit. Pleks daarvan, swaai hy weg, vlieg oor die sjona en uit. Ek volg hom terug na die basis toe.”
“Sjoe! “
“Op pad daarheen sé Chris sy vliegtuig vlieg goed, maar sy instrumente is morsdood, wil ek nie ‘n ogie gooi nie? Ek vlieg tot skuins regs agter hom en kyk. Daar is ‘n gat in die kant, kleinerig; verder lyk alles goed en daar is geen teken dat ‘n brand kan ontstaan nie.”
Wat gebeur het, is dat ‘n koeël die draadspoel getref en alle verbindings na die instrumente verbreek het. Toe Chris sien sy instrumente is dood, het hy geglo sy enjin is uitgeskiet. Net betyds het hy besef sy vliegtuig is nog vol krag en lewe om uit die vyand se hande te kom.
Tydens die terugvlug na die basis met Chris Louw saai Michael alle inligting uit oor wat gebeur het en wat die posisie is.
Intussen het Harry Anderson by die basis gesien vyf Pumas keer terug, en hy’t dadelik onraad vermoed, want ses het vertrek. Toe Michael se boodskap deurkom, was Harry gereed om met die oorblywende vier Alouettes uit te gaan en Swapo te straf. Ook die Mirages op die hoof basis verder terug het gereed gestaan vir ‘n aanval.
Eers is op Chris Louw en Michael Hill gewag. Chris se vliegtuig was onlugwaardig, maar Michael s’n het net enkele gate van kleingeweervuur gedra, niks ernstigs nie. Hy het teruggeklim en die ander Alouettes na die toneel gelei.
Wéér het hy onder skoot gekom, die ander ook, maar hulle het geweet wat te wagte was en het ‘n wye sirkel oor die basis gehandhaaf in afwagting op die Mirages.
Dit het begin laat word, drieuur se stryk. Toe kom die Mirages en ontvang uit die lug aanduidings van Harry Anderson. Die Mirages het hulle bomme gegooi, maar omdat dit begin donker word het, is die operasie gestaak. Daar was in elk geval weinig hoop dat enige oorlewende uit die Puma kon kom.
Die volgende oggend is hulle weer uit, maar die hele Swapobasis het oornag noordwaarts gevlug. Waar die Puma geval het, is die lyke van die insittendes gevind. Die jag op die Swapogroep is voortgesit en die dag daarna vlieg Neall Ellis, wenner van die Honoris Crux in ‘n ander insident, toevallig oor die groep se nuwe tydelike basis. Hy sou miskien nie hulle teenwoordigheid besef het as een Swapo nie oormoedig of domonnosel was nie. Hy het ‘n SAM-7 op Neall se Alouettes afgeskiet en gemis. Met bystand is die hele basis vernietig.
‘n Oog om ‘n oog.